Stapwenke


Stuur asb u bydraes in.

As dit uit 'n gepubliseerde boek kom, gee asb ook die boek se naam. Ek sal u naam ook by die wenk plaas. Epos my hier.

Indeks:

  • Hou slaai koud. (CVR)
  • Hooiboks. Vrugtekoek en droewors. Re-ignite. (CVR)
  • Los Moue (CVR)
  • Waterlose seep buisie (CVR)

    Stapkoswenke
    Laat slaaigoed doodgewoon buite gedurende die nag (of in jou rugsak, as daar ‘n muisgevaar is!) om goed af te koel en rol dit vir die dag in jou slaapsak toe om die koelte te behou – bv groenslaai, sampioene, komkommer, groenrissie – jy eet ‘n heerlike vars slaaitjie, vir minstens 4 dae lank.

    Maak ‘n hooiboks om gas/brandstof (en natuurlik gewig) te bespaar – bring kos soos rys en pasta met die vereiste hoeveelheid water, sousie, droë groente ens. saam tot kookpunt, laat ‘n bietjie stoom opbou, plaas op ‘n vadoekie/vatlappie binne-in ‘n groot plastieksak, draai dan toe in ‘n space blanket, en laaste in jou slaapsak – laat staan 45 min. – 1 uur en meng voorafverhitte vis/vleiskos in.

    Toe ons Kilimanjaro gestap het, was die mees effektiewe peuselkos sonder twyfel vrugtekoek en droëwors – ‘n klam koek, nogal met versiersel, klaar in stukkies verpak, het meer as eenkeer wondere gedoen vir die energie en die moraal, en die droëwors se spekkies, wat nie soos biltongvet galserig/muwwerig geword het nie, het beslis gehelp.

    As ‘n mens nie binne ‘n halfuur na intense inspanning jou glikogeenstore aanvul nie, onttrek jou liggaam dit uit jou spiere, wat natuurlik vir die res van jou staptog nadelige gevolge inhou. Drink dus PVM se Re-ignite met middagete en ná die dag se stap.
    Staptoerusting

    Die los moutjies wat fietsryers dra is sommer baie werd op ‘n stap! Vroeg in die môre, wanneer jy moet rondstaan terwyl die stadiger ouens nog rugsak toemaak, is jy nie heeltemal kaalarms aan die bibber nie en ná die eerste bultjie stroop jy die moutjies af sonder om te moet sukkel met ‘n afsaal en uittrekkery. Dit help natuurlik ook teen die son.

    ‘n Buisie waterlose seep het vir my onontbeerlik geword – dis heerlik om nooit meer vuil, taai, stowwerige hande op ‘n stap te hê nie!

    Bydraes:
    CVR : Cecilia v Rensburg.